Mighty Men 2013



'n Onvergeetlike MMC 2013 naweek - Jacques Whittle

eorge Friend:
KMMC 2013 was my eerste Mighty Men. Vir my was dit 'n baie persoonlike ervaring. Iets wat jy in jou hart ervaar. Baie van daardie gevoelens kan jy nie in woorde uitdruk of op papier neerskryf nie. Jou persoonlike geestelike groei is baie belangrik en geld kan nie so 'n geleentheid koop nie. Dit was defnitief die tyd werd. Dit is 'n ervaring wat nie gedeel kan word nie. Nie eers met jou vrou of 'n vriend nie. Dit is persoonlik. As ek iemand moet motiveer om te gaan sal ek sê: "Gaan net, jy sal daar uitvind hoekom."

Dit was lekker om in die karoo te wees. Ek is nie mal oor kamp nie, maar sou dit nie anders wou hê nie. Ek hou van my privaatheid, baie mense maak my bang, maar jy het volumes nodig om die globale ervaring te befonds. Ek het nuwe mense ontmoet en ook nuwe vriende gemaak. Dis natuurlik 'n bonus om na die mans te sit en kyk wat nie hulle eie tente kon opslaan nie; lagwekkend hoeveel hulle Mamma gemis het.


Willie Botha:
My eerste Mighty Men ondervinding was in 2009 in Natal. Die Karoo MMC was my tweede een. Die Heilige Gees het my op aspekte in my lewe gewys wat al met die tyd "verdof" het. Die twee manne wat ek saam geneem het, het hul lewens opnuut weer aan die Here gegee. Alhoewel so 'n naweek in afsondering met die Drie Eenheid altyd iets besonders is, is so 'n naweek propvol feite. Met my kerklike agtergrond is sommige hiervan vir my maar vreemd, maar daarvoor doen die Gees die ondersoek maar ook die onderskeid. Ek voel wat "Geestelike skokbehandeling" aanbetref, as daar so iets is, is dit soms nodig om so 'n naweek by te woon, en sal ek dit defnitief vir mans aanbeveel.


Dirk Kotze:
Dit was die eerste keer dat ek 'n Mighty Men-byeenkoms bywoon. Ek het baie daarna uitgesien en na die een sien ek nog meer uit na die volgende een! Ek het ander mans van ons gemeente, wat ek reeds vooor MMC geken het op 'n persoonlike en geestelike vlak baie beter leer ken en hoewel ek met "maats" daar aangekom het, het ek met vriende huis toe gekom. Ek het nie soseer meer mense ontmoet nie, maar eerder die mense wat ek geken het, op n ander manier ontmoet.

Die samekomste was geestelik vullend en mens kon God se teenwoordigheid aanvoel, elkeen het 'n boodskap uit elke sessie gekry. In die "af tyd" kon mens stil herkou aan die boodskappe en dit met ander deel. Daarom was die "af tye" net so belangrik soos die "aan tye".

Die feit dat dit net mans is, maak logistiek makliker maar die boodskappe gaan ook oor leiding wat geneem moet word deur die mans, in hulle huise, by die werk en in alles wat hulle doen. Die oop karoo maak die verblyf en kamp nogal 'n aanpassing maar maak dit ook moontlik om op God en mekaar te fokus want daar is nie steurnisse soos TV's nie.

Die groot aantal mense steur ook nie (behalwe miskien gedurende slaaptyd), omdat die spasie groot is en by die dienste is almal meestal ingestel op dit wat gesê word - inteendeel dit was goed om te sien hoeveel mans wel daar was en 'n verskil wil maak.


Frans Krause:
Die een woord wat vir my uitgestaan het, was NOU!

Dawie Spies het gesê ons moet NOU uit die boom klim (soos Saggeus). Afrika het gesê ons moet NOU opstaan en sê " Tot hier toe en nie verder nie". Jonna het gesê ons moet NOU ons plan regkry, en Oom Angus het gesê ons moet NOU ons leuens gaan regstel en van NOU af die waarheid praat.

Die Praise & Worship was natuurlik fantasties! Louis Brittz is baie begaafd en 'n fantastiese voorbeeld.

Die sprekers het beslis aan ons oorgedra wat God vir ons wou sê.

Die fellowship en saam lag en saam bid was regtig baie kosbaar.














† Na Bo †

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.